Rundbrief 2022

Rundbrief 2022

Nuusbrokkies

2022-02-03

Laai die Nuusbrief af: Rundbrief 2022_za

Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.

(Hebreërs 13:8.)

Beste broeders en susters, vriende en ondersteuners van die RTS

Die oorgang van die ou jaar na die nuwe jaar lei altyd tot nadenke en nabetragting. Daar
word nagedink oor die jaar wat verby is en die jaar wat voorlê. Baie dinge wat gebeur
het of ervaar is, word beoordeel, geweeg, verwerk. Waarskynlik is daar min geleenthede
waartydens die woorde uit die boek Prediker, alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak
onder die hemel is daar ’n tyd …, meer toepaslik is as juis die begin van die nuwe jaar.
Hiermee is egter nog nie alles gesê nie. Hierdie wysheid, dat alles “sy bepaalde uur” het,
sowel as die res van die inhoud van die boek Prediker, kan immers uiteindelik tog net
– soos ook die Ou Testament en die Heilige Skrif in geheel – teen die agtergrond van
Hebreërs 13:8 verstaan word, naamlik dat Jesus Christus gister en vandag dieselfde is en tot
in ewigheid. Vanselfsprekend is die eerste verse van die Brief aan die Hebreërs hier die
agtergrond (vir die res van die brief, ook vir Hebreërs 13:8):

Nadat God baie keer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die
profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het. Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte, terwyl Hy soveel uitnemender geword het as die engele namate Hy ’n voortrefliker naam geërf het as hulle. (Heb. 1,1-4.)

Dat ons as mense in die tyd leef terwyl God as Skepper van die tyd egter verhewe bo die
tyd is, dat Hy naamlik die tyd en alle tye nie net geskep het nie maar ook bepaal – dít
moet vir ons so vroeg in die jaar opnuut duidelik wees. Sonder Hom is alles verniet,
tevergeefs … en van sy seën is alles afhanklik (Psalm 127). Alle nuwejaarsvoornemens, alle
ideale, alle planne en ondernemings – hoe mooi en edel en suiwer dit ook mag wees – is
sonder Christus tevergeefs; sonder sy seën lei dit na niks.

Martin Luther het hierdie feit baie duidelik ingesien. In sy nadenke oor teologie wys hy
(in teenstelling met ’n sogenaamde theologia gloriae) daarop dat die mens die glans van
God se majesteit nie kan verduur nie. Daarom openbaar God Homself in sy Seun. In die
woorde van die Hebreërbrief: God het tot ons gespreek deur die Seun. En hierdie Seun, Jesus Christus, is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. Op die Wartburg (1521/1522)skryf Luther in die Inleiding tot sy “Kirchenpostille” baie spesifiek:

… opgesom moet gesê word dat die Evangelie oor Christus gaan, dat Hy die Seun van God is, vir ons mens geword het en gesterf het en opgestaan het en as Here oor alles gestel is. Hierdie volslae sentrale stelling van Jesus Christus, wat gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid is, weerlê alle pogings om die absolute Waarheid van Christus en sy Evangelie te relativeer. Vir die RTS Heidelberg wat homself sien as teologiese opleiding in die diens van die kerke met ’n sendingopdrag is “solus Christus” dus inderdaad baie meer as ’n blote leuse, ’n kreet, ’n slagspreuk wat as advertensie gebruik word, soos by ’n besigheid. Inteendeel. Dit is die grondliggende oortuiging dat Christus as mensgeworde Seun van God, as ware God en ware Mens, die volledige inhoud en doel van alle teologiese opleiding is en moet wees.

Verlede jaar het bepaalde maatreëls weens Covid-19 ook by die RTS tot bepaalde
inbeperkings gevoer. Nogtans kan ons baie dankbaar teenoor die Here vir nog ’n
genadejaar wees. Die Here het die RTS en alle medewerkers bewaar en daar is vele
konkrete ontwikkelings en hoogtepunte wat ons tot dankbaarheid noop. Om enkeles te
noem:

· Ten spyte van die beperkende maatreëls kon die beplande kursusse en voorlesings
plaasvind; meestal in die kombinasie van direkte (teenwoordigheid-) en aanlyn-onderrig.

· Gesprekke met buitelandse teologiese instellings op die dieselfde belydenisgrondslag
as die RTS kon verder gevoer word, ook met die oog op meer direkte samewerking in die
toekoms.

· Sedert 2021 se somer-semester (Mei tot Julie) is die webwerf van die RTS weer nuut
opgebou en aanlyn toeganklik by www.rtsonline.de Onder meer word met blogs na
aktuele kursusse en gebeurtenisse en akademiese geleenthede verwys.

· Nuwe sagteware wat welwillend deur ’n buitelandse susterinstelling aan die RTS vir
gebruik beskikbaar gestel is, is ’n belangrike volgende stap vir die professionele bestuur
van die RTS se administrasie.

· Met groot opgewondenheid kon die reeds lankal beplande nuwe wetenskaplike,
teologiese tydskrifreeks geloods word: Die RThZ (Reformatorisch Theologische Zeitschrift).
Die eerste uitgawe is in Oktober by die amptelike opening van die nuwe akademiese jaar
bekendgestel.

Intussen was daar ook verdere belangstelling vir studie by die RTS. Deur die loop
van die afgelope vier semesters het die beleidsbesluit om die voltydse studie-aanbod
met ’n deeltydse studie-aanbiedinge te vervang, geblyk die regte weg te wees. Op een
uitsondering na is naamlik alle persone wat tans aan RTS-kursusse deelneem, persone
wat voltyds in ’n hulle beroepe werksaam is – studente vir wie ’n voltydse studie nie ’n
opsie is nie. Hierdie aanbod kan egter ook aantreklik wees vir voornemende studente
uit die Europese buiteland. Sodanige navrae word tans aan ons gerig en word deur die
RTS se raad hanteer. Daar is immers nie slegs ’n groot behoefte aan ’n deeglike teologiese
opleiding gefundeer op die Skrif en gereformeerde belydenis in Duitsland nie, maar ook
verder oos in Midde- en Oos-Europa.

Met vreugde en dankbaarheid kyk ons terug op die feestelike gebeurtenis van die offisiële
opening van die nuwe akademiese jaar en semester in Oktober verlede jaar. Benewens die
Duitse gaste en lede van die RTS-raad kon hierdie keer – anders as in 2020 as gevolg van
die destydse Corona-maatreëls – ook die Nederlandse lede van die RTS-raad en ander
gaste uit Nederland aan die geleentheid deelneem.

Tydens die eerste helfte van die openingsprogram is die oordenking deur ds. Raphael
Schuster van die Gereformeerde Kerk Hannover (Selbständig Evangelisch-Reformierten
Kirche Hannover – SERK Hannover) waargeneem. Hierdie verkondiging deur ds. Schuster
het ons baie verheug, onder andere ook omdat hy as RTS-alumnus een van die eerste
studente was wat sy teologiese studie aan die RTS voltooi het. Jak. 1:22-27 was die teks
van sy oordenking. Hy het in sy uitleg van hierdie teks daarop gewys hoe geloof en dade by
ons dien van en diens aan die Here nooit van mekaar losgemaak kan word nie – dit staan
in die mees noue verbinding tussen die hoor van die Woord en die doen van die Woord.
Met sy uitleg van die teks en sy toepassing daarvan het hy die lyn getrek van die geloof tot
die lewe – juis ook met verwysing na teologiese onderrig en studie.

In die tweede deel van die amptelike opening het prof. dr. Jason Van Vliet, Rektor van
die CRTS (Canadian Reformed Theological Seminary, Hamilton, Kanada) die feesrede
gelewer. Sy onderwerp was The Church’s Confessions in the Church of the 21st Century (Die
Bekenntnisse der Kirche in der Kirche des 21. Jahrhunderts). Prof. Van Vliet het duidelik
aangetoon hoe ons kerklike belydenisse glad nie iets van die verlede is nie, juis die
teendeel is die geval. Hulle is in alle opsigte nog hoogs aktueel – nie slegs vir die kerk en
die gemeente nie maar juis ook vir teologiese opleiding van predikante en sendelinge. Die
hele geleentheid was op die internet per lewendige uitsending toeganklik. Die positiewe
terugvoer uit Duitsland en die buiteland is stof tot dankbaarheid.

Nog relatief vroeg in die nuwe jaar wil ek graag – ook namens my kollegas aan die RTS
en die raad sowel as studente – vir u verder seën toewens vir die res van die jaar. Mag die
Here gee dat ons aan die einde van die jaar met vrymoedigheid soli Deo gloria kan bely.

Aan alle individue, kerke en organisasies wat ons getrou deur gebede en ook deur
donasies en hulp ondersteun – ons opregte dank daarvoor. Weet asseblief dat dit ter
uitbreiding van die evangelie in ’n donker wêrelddeel is.

Met hartlike groete in die Here,
Victor E. d’Assonville

d r . t h e o l . v i c t o r e . d’a s s o n v i l l e
+4 9 (0) 175 506 3249
[email protected]
www.rtsonline.de>

Laai die Nuusbrief af: Rundbrief 2022_za