/
NUUSBROKKIE 2 VAN DIE SENDINGVELD

NUUSBROKKIE 2 VAN DIE SENDINGVELD

Nuusbrokkies

2016-08-17

Watter vreugde was dit nie toe hierdie jongman, wat sy voorkoms betref ’n tipiese Alpe-Duitser uit Beiere (soos op ’n poskaart – Oktoberfees, leerbroek, baard …), in Desember as predikant in Berlyn bevestig is. Ons was maar ’n klein klompie daar – ’n aantal kollegas uit Engeland en Wallis, dan nog ’n Sweedse, ’n Duitse, ’n Amerikaanse en ’n Poolse kollega; daarby enkele lidmate uit die jong Presbiteriaanse gemeente in Berlyn en familie sowel as studentevriende. Die gereformeerde kollega van Heidelberg het by die geleentheid die Woord verkondig. Die vreugde oor nog ’n gereformeerde dienaar van die goddelike Woord in hierdie groot Duitse en Europese sendingveld was groot.

Onwillekeurig moes ek terugdink aan my eerste ontmoeting met student Müller in 2009 toe hy met sy teologiese studies begin het. Hy het alles oor die Reformasie soos ’n spons opgesuig: die oorweldigende Bybelse boodskap van die vrye guns in Christus alleen. My gedagtes het teruggeflits na die vertellinge oor die stryd met sy tuisgemeente omdat hulle nie wou hê dat hy reformatoriese teologie studeer nie. En hoe hy ook ’n paar semesters aan die London Theological Seminary gaan studeer het. Ook het ek onthou hoe hy in 2013, tydens ’n besoek aan ons, vertel het dat hy nie meer na die evangelikale gemeente, waar hy vroeër sy prakties gedoen het, beroep sal kan word nie. “Herr d’Assonville”, het hy gesê, “ek dink ek is intussen te gereformeerd …”.

Berlyn word allerweë beskryf as een van die huidige gunsteling toeriste aantreklikhede in Europa, ’n polsende stad waarvan (volgens opnames, o.a. gepubliseer in ’n koerant van Londen) die naglewe bestempel is as die mees opwindende in die wêreld. Die groot taak en uitdaging om die evangelie in juis só ’n stad te verkondig, spreek vanself.

Hoe groot dus die vreugde en dankbaarheid teenoor ons hemelse Vader in Christus dat Hy hierdie jong man deur sy Woord en Gees in sy Waarheid hierheen gelei het. Dat hierdie geroepene deur ’n gereformeerde (presbiteriaanse) kerk van Engeland as sendeling beroep en uitgestuur is om die Lig te bring in ’n stad – Berlyn – wat allerweë in die buiteland as sentrum en draaipunt van sentraal-Europa geprys word.

Dr Victor d’Assonville – Heidelberg, Duitsland