NUUSBROKKIE 3 VAN DIE SENDINGVELD

NUUSBROKKIE 3 VAN DIE SENDINGVELD

Nuusbrokkies

2016-08-17

Waar Berlyn Duitsland se grootste stad is, omring deur die voormalige Marxistiese Oos-Duitsland, het die Ruhrgebied aan die Westerse grens van Duitsland weer die grootste sametrekking van inwoners op die kleinste grondgebied – meer as vyf miljoen. Die “Ruhrpott”, soos dit ook genoem word, bestaan eintlik uit ’n klompie aangrensende stede sonder enige opvallende grense – ’n mens ry eenvoudig van die een in die volgende een. Hierdie groot stede, o.a. Essen, Bochum, Dortmund, Düsseldorf und Duisburg, vorm saam van die mees dig bevolkte gebiede in Europa, per kwadraat kilometer selfs digter bevolk as Londen. Dit is juis in hierdie Ruhrgebied waar ook ’n ander ’n oud-student van die RTS in Januarie as predikant bevestig is. Hy het op sy beurt ná sy studies by ons nog ’n meestersgraad in Ou Testament aan die Teologiese Universiteit in Kampen behaal, onder meer met ’n mooi verhandeling oor die Psalms.

 

“Verag die dag van kleine dinge nie”, leer die Here ons in sy Woord (Sag. 4:10). En inderdaad, die bevestiging van twee nuwe bedienaars van sy Woord in ’n land met meer as 80 miljoen inwoners die afgelope twee maande klink op ons mense-ore nie indrukwekkend nie. Tog is die Here se gedagtes nie ons s’n nie en ons weë nie syne nie (Jes. 55:8). Uiteindelik is dit die Seun van God wat deur sý Woord en Gees sy kerk versamel, beskerm en bewaar (HK, vr. 54).

 

En daarvoor gebruik Hy diensknegte sodat sy Woord gepreek en gehoor kan word (Rom. 10:14-17). Ook en miskien juis in ’n wêreld waar dit oor die skouspelagtige gaan, waar ekonomiese suksesse dié maatstaf vir die samelewing is; waar ons altyd geneig is om in getalle vas te kyk, waar eredienste afgeskaf word omdat die kerkbesoek “te swak” is, wys die Here weer sy genade in iets wat nie die voorblaaie van die koerante gehaal het nie – die bevestiging van predikante en sendelinge vir die moeilike taak van prediking in ’n harde, evangelie-vyandige wêreld. Maar ons weet, dit is Hy wat roep en dit is hy wat stuur …

Dan is dit, soos wat Calvyn met verwysing na Rom. 1:5 sê:

Die doel van die verkondiging van die evangelie … [is] sodat God al die heidene [volke] byeenbring in gehoorsaamheid van die geloof.