Donasies

Geagte Broer/Suster

Duitsland, een van die hartlande van die Reformasie van die sestiende eeu, is vandag in ’n toestand van geestelike bankrotskap.  Daar is trouens meer lande in Europa waar die peil van godsdiens bitter laag is.  Die enige ware God word nie geken en aanbid nie.  Kerke loop leeg.  Dikwels is vormgodsdiens of die uitleef van ’n voorspoedsgeloof al wat oorgebly het in kerke wat nog wel funksioneer.  Die gevolge daarvan is in die Europese gemeenskap sigbaar.

Dit is duidelik soos daglig dat heelparty Europese lande opnuut sendingveld geword het.  Met die oog daarop is die VSOD (Vereniging vir Sending onder Duitssprekendes) in die lewe geroep.  Die vereniging beywer hom vir die uitdra van die evangelie in die land waar Luther bykans 505 jaar gelede sy 95 stellings aan ’n kerkdeur in Wittenberg vasgespyker het.

Dr. Victor E. d’Assonville is direk betrokke by die opleiding van Gereformeerde predikante in Duitsland.  Hy was eers deur die Gereformeerde Kerk Marble Hall beroep en gestuur om dié belangrike werk te doen, sedert 2020 is die Gereformeerde Kerk Postmasburg die sendende kerk.  Dr. Victor was ook vanaf 2012 besig met die vestiging van ‘n gereformeerde gemeente in Hannover – in 2017 het die gemeente finaal tot stand gekom, die SERK Hannover (Gereformeerde Kerk Hannover) met dr. Victor as die eerste predikant. In Oktober 2018 kon een van die eerste alumni (voormalige studente) van die RTS beroep word en as voltydse predikant daar bevestig word: ds. Raphael Schuster. Dr Victor se sendingwerk lê dus op twee vlakke:  Die opleiding van teologiese studente en Woordbediening wat lei tot kerkplanting.

Indien u saam met vele ander gelowiges die kosbare werk wat in Duitsland gedoen word ondersteun, sal dit almal wat daarby betrokke tot groot hulp wees.

U kan op die volgende maniere betrokke raak:

  • Word lid of vriend van die vereniging en ons sal u op ‘n gereelde basis op hoogte hou deur middel van ‘n nuusbrief oor die stand van sake. U kan sommer hier op die webblad inteken op die nuusbrief.
  • Indien u nou al reeds bydrae per EFT kan maak, sal ons dit hoog op prys stel.
  • Ons poog om soveel as moontlik maandelikse debietorders te kry. U kan die vorm hier aflaai en aan ons e-pos.

Bank: Absa
Rekening naam : VSOD
Rek nommer: 9317604596
Tak kode: 632005 (Absa Universal)
Verwysing: VSOD en u naam (dis opsioneel)